Die priesters wou gisteroggend nog teen misdaad bid tydens hul samekoms in Lorraine se Storehouse-kerk, toe bars die polisie die gebou binne.

Rowers se spoor het hulle daarheen gelei, want vroeer is die Tops-drankwinkel by die Miramar Spar in Buffelsfonteinweg beroof.

“Toe ons die helikopter bo die kerkdak hoor, het ons nogal gese ons moet teen misdaad bid, maar nog voordat ons kon begin, het die polisie ingestorm en gese ‘n man het by die kerk ingehardloop,” het ‘n verdwaasde biskop Glenn Lyons van di Emmanuelkerk in Lorraine vertel.

Spoedig het die polisiebeamptes toe wel ‘n man in die kerkgebou vasgetrek.

Volgens kapt. Johan Rheeder, ‘n polisiewoordvoerder, het vier gewapende mans omstreeks 09:35 geld en drank by die Tops-drankwinkel geroof en in ‘n wit Toyota-motor weggejaag.

Die Atlas-veiligheidsmaatskappy het dadelik vir polisiebystand gevra en die motor agternagesit.

“Ek het hulle in Lorraine gesien wegjaag. By ‘n verkeerslig het ek beduie hulle moet stilhou, maar een van die insittendes agter het n vuurwapen op my gerig en toe moes ek hulle maar laat gaan,” het Leon Pienaar van Atlas gese.

Maar hy is toe weer agterna en skaars ‘n paar kilometer verder kon Pienaar daarin slaag om die motor op die hoek van Vitrylaan en Chaumontweg vas te keer.

“Die bestuurder (36) het bly sit, en die ander drie het in verskillende rigtings weggehardloop.”

Langs die motor is ‘n beursie en selfoon agtergelaat en binne-in note en ‘n sak met drank.

Kommer oor die veiligheid van die leerders van die Laerskool Lorraine, wat net meer as 200m straataf van die drama was, het opgevlam toe die nuus van die drie gewapende mans soos ‘n veldbrand versprei het.

Volgens Alex Cooper van die Laerrskool Lorraine is noodmaatreels toegepas en geen leerder is toegelaat om die skoolgebou te verlaat nie.

Besorgde ouers het ook Die Burger gebel om te vra of hul kinders veilig is by die skool.

Intussen het polisiebeamptes in samewerking met Atlas hul soektog na die drie ander verdagtes voortgesit.

Met die hulp van die polisiehelikopter is nog ‘n man vasgetrek terwyl hy in Lorraine van een muur na ‘n ander tussen erwe gespring het.

Nog ‘n man is in die erf van Jim Moray (78) gevang. Naby die man is ‘n vuurwapen aangetref.

Een van die rowers het weggekom.

BRON: Die Burger